SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

24 July 2011

'Heropen ondersoek na Helderberg-ongeluk'


Johan Eybers

Johannesburg - Familie van slagoffers van die Helderberg-vliegramp in 1987 gaan die hof versoek om die ondersoek na die tragedie te heropen.

“Daar is nou nuwe getuienis wat daarop dui dat die oorsaak van die ramp toegesmeer is. Ons wil hê dit moet ondersoek word, sê me. Sam van der Walt. Sy het albei haar ouers in die ongeluk verloor.

Altesame 159 passasiers en bemanningslede is dood toe die Helderberg, ’n Boeing 747 Combi, op 28 November 1987 naby Mauritius op ’n vlug van Taiwan na Johannesburg in die see gestort het.

“Ons gee nie om dat dit nou 24 jaar later is nie. Ons wil steeds die waarheid hê. Ons het berusting nodig,” sê sy.

Dit kom nadat kapt. Clair Fichardt, ’n voormalige voorsitter van die Lugdiensvlieëniersvereniging (Alpa) en ’n afgetrede SAL-vlieënier, Maandag ’n verklaring afgelê het oor ’n bandopname van ’n gesprek in die stuurkajuit van die Helderberg.

Volgens Fichardt het ’n oudkollega, kapt. ­James Deale, net voor sy afsterwe aan hom vertel dat hy die bandopname aan die destydse hoofkaptein van die SAL, kapt. Mickey Mitchell, oorhandig het.

Dit is glo in die teenwoordigheid van Gert van der Veer, destydse hoof van die SAL, gedoen.

Maar dié bandopname het ná die ongeluk verdwyn.

Mitchell is ’n maand gelede oorlede en Van der Veer het nie Rapport se oproepe beantwoord nie.

Die bekende forensiese ondersoeker David Klatzow het in sy boek Steeped in Blood – The Life and Times of a Forensic Scientist geskryf daar was ’n toesmeerdery tydens die ondersoek na die lugramp.

Hy het by navraag gesê die sogenaamde vermiste bandopname waarna Fichardt in sy verklaring verwys, kan ’n belangrike stuk in die onvoltooide Helderberg-legkaart wees.

“Hierdie verklaring is ’n stem uit die binnekring en moet ernstig opgeneem word. Dit is beslis genoeg rede om die ondersoek te heropen,” sê Klatzow.

In die amptelike ondersoek is destyds bevind die Helderberg het neergestort nadat ’n brand in die vragruim ontstaan het.

Na bewering is plofbare, wapenverwante materiaal egter onwettig deur die apartheidsregering op die vlug vervoer.

Van hierdie bewerings is deur die Margot-kommissie en die WVK ondersoek, maar die ondersoeke het niks opgelewer nie.


- Rapport