SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

06 July 2011

Held uit koma wat twee uit brand red

Jacques Steenkamp

Die man wat sy vrou en dogtertjie in Mei uit hul brandende huis in Vanderbijlpark gered het, sterk steeds in die hospitaal aan nadat hy onlangs uit sy geïnduseerde koma ontwaak het.

Mnr. Mduduzi Dlamini (30) kry nie meer verdowingsmiddels nie en dokters van die Milpark-hospitaal het reeds die meeste van sy veloorplantings gedoen, het sy vrou, mev. Tracy Dlamini (29), gesê.

“Hy is die meeste van die tyd wakker, maar praat nog nie omdat hy nog pype na sy longe het. Hy reageer deur hand- of gesigsuitdrukkings wanneer ek met hom praat en ek kan ook sy lippe lees om te sien wat hy sê,” het mev. Dlamini gesê.

’n Brand het op 14 Mei in hul huis ontstaan as gevolg van ’n elektriese kortsluiting in die dak van die egpaar se huis, bo die plek waar mnr. Dlamini geslaap het. Vlamme het kort daarna deur die dak geval en bo-op mnr. Dlamini se gesig en lyf beland. Hy het glo opgespring en badkamer toe gehardloop waar hy die vlamme op homself met kraanwater geblus het.

Mnr. Dlamini het toe sy swanger vrou en daarna hul dogter, Chloe (2), uit die brandende huis gered.

Chloe gaan gereeld saam met haar ma om haar pa te besoek, maar die kleuter word nie in die brandeenheid toegelaat nie.

“Dit is jammer dat my kind nog nie haar pa ná die voorval gesien het nie. Elke keer wanneer ek Mdu moet verlaat, hou hy my hand vas, skud hy sy kop en begin hy huil. Dit is baie moeilik om hom alleen te los,” het mev. Dlamini gesê.

- Die Beeld