SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

07 July 2011

Driejarige brand sy ouerhuis af in Springs


Die huurhuis in Springs wat in puin gelê is nadat ’n driejarige seuntjie ’n aansteker in die hande gekry en ’n broek daarmee aan die brand gesteek het.Foto: Loanna Hoffmann

Jacques Steenkamp

’n Driejarige seuntjie se ouerhuis in Springs het afgebrand nadat hy ’n aansteker in vermoedelik sy pa se hangkas gevind het en ’n broek daarmee aan die brand gesteek het.

Die kleuter se gesin het sowat ’n maand gelede van Port Shepstone na Springs getrek.

Die pa, wat nie hul name wil bekend maak nie om die kleuter te beskerm, het gesê sy vrou het die seuntjie Maandag omstreeks 13:00 by sy kleuterskool opgelaai en toe by hul huurhuis in Jacobstraat, New Estate Area, gaan aflaai.

Hul 14-jarige dogter sou haar boetie die res van die middag oppas.

“My dogter het my omstreeks 14:30 gebel om te sê daar is ’n brand in my slaapkamer,” het die 38-jarige pa gesê.

“Ek het haar gevra om dit te probeer blus, maar sy het gesê die vlamme is te groot en sy kan nie. Ek het toe vir haar gesê om haar broer te vat en dadelik uit die huis te vlug.”

Hy het toe sy vrou (36) gebel en gevra om die brandweer te ontbied, terwyl hy na die huis gejaag het. Volgens hom het dit hom tien minute geneem. Toe hy by die huis stilhou, was sy kinders in die sorg van sy buurvrou en was haar man besig om die vlamme met ’n brandblusser te probeer blus.

“Daar het swart rook orals by die huis uitgekom. Ek het by my buurman aangesluit en wou help, maar die vlamme het te vinnig deur die huis versprei. Ons het toe om die huis na my kinders se kamers gehardloop.”

Hulle het die vensters gebreek om by die kamers in te kom, maar hulle kon net die kinders se beddens en van hul klere daaruit kry voordat die vlamme dié deel van die huis bereik het. “Ons het alles verloor. Al ons besittings is verwoes, maar dit beteken niks in vergelyking met my kinders wat nog leef nie. Ek is baie dankbaar daarvoor.”

Die man beweer talle bure en sy vrou het die brandweer verskeie kere ontbied, maar hulle het eers sowat 45 minute later opgedaag. Die gesin het sedert die brand by vriende oorgeslaap en sal na verwagting Vrydag by ’n nuwe huis intrek.

Ao. Tommy Tomlinson, polisiewoordvoerder, het gesê die brandweer en polisie ondersoek die voorval.

- Die Beeld