SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

19 July 2011

Dokter spring van balkon oor vlamme


Foto: Die huis Saterdag in die vroeë oggendure in ligte laaie.

Hilda Fourie

’n Pretoriase dokter het met sy lewe daarvan afgekom toe sy multimiljoenrand-huis aan die brand geraak het.

Dr. Isaac van Niekerk (58), ’n radioloog, het van ’n verdieping af grond toe gespring om weg te kom van die vlamme, wat sy huis in Queenswood, in die Pretoriase Moot, Saterdagoggend omstreeks 04:00 verswelg het.

Benewens Van Niekerk se vyfverdiepinghuis wat afgebrand het, het sy Porsche in die slag gebly en sy foxterriër, Ella, doodgebrand.

Hy skat die skade aan sy huis op R18 miljoen.

Van Niekerk was Vrydagaand alleen tuis. Sy seun, Ivan (15), was op pad terug van Europa waar hy vir die vakansie gaan toer het.

Volgens Van Niekerk was daar ’n kragonderbreking in die omgewing en het hy ’n kers by sy slaapkamerdeur gesit om te kan sien waar hy loop. Hy kan nie onthou of hy die kers doodgeblaas het toe hy omstreeks 22:30 gaan slaap het nie.

Sy slaapkamer is op die vierde verdieping.

“Ek het omstreeks 04:00 wakker geword van glas wat breek.

“Ek het gedink daar word by my ingebreek,” het Van Niekerk gesê.

“Ek het opgespring en die vlamme deur my kamervenster gesien. Die vlamme was massief.

“Ek het besef ek is in my kamer vasgekeer en het geweet ek moet hier uit.

“Al my veiligheidsmaatreëls om te keer dat inbrekers in my huis inkom, het my in my huis vasgekeer.”

Foto: Mnr. Oupa Sebela by sy werkgewer, dr. Isaac van Niekerk, se uitgebrande Porsche.- Liza van Deventer


Van Niekerk, wat kaalvoet was, het ’n baadjie en sy selfoon gegryp en na die stoep buite sy kamer gehardloop. Die vlamme was reeds buite sy kamerdeur.

Hy het om die huis gehardloop na ’n veiligheidshek by sy seun se kamer. Hy het die veiligheidshek oopgesluit met ’n sleutel wat bo-op die hek weggesteek was.

Van Niekerk het verder op ’n stoepie geloop tot by ’n traliehek waaraan lemmetjiesdraad vasgebind was.

Hy het aan die lemmetjiesdraad geklou, tot op diefwering van die onderste verdieping geklim en toe die laaste verdieping grond toe gespring.

Van Niekerk het gehardloop na waar sy Porsche en MG gestaan het.

Hy het die hek met ’n hamer oopgeslaan en kon die MG betyds uitkry.

Net nadat hy die MG uitgetrek het, het die Porsche aan die brand geraak.

Van Niekerk het sy eksvrou, Sonia, gebel en gevra om die brandweer te ontbied. Die brandweer was binne minute op die toneel.

- Die Beeld