SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

26 July 2011

Die spierwit Karoo

George

Sneeu wat plek-plek tot ’n meter diep gelê het, het gister in dele van die Karoo geval.

Op Beaufort-Wes het dit die eerste keer in 30 jaar op die dorp en in die omgewing gesneeu en baie mense het van die werk weggebly om die skouspel te bewonder.

Ondanks die bitter koue het talle nuuskieriges die paaie aangedurf om sneeu te kyk.

In ander dele van die provinsie het dit nie noemenswaardig gesneeu nie, maar goeie reën het geval en syfers wat wissel tussen 16,6mm en 78,4mm is aangeteken.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het voorspel dat dit eers weer teen Donderdag behoort te reën.

Die bibberweer wat die naweek voorgekom het, het gister nog veral in die Sentraal-Karoo ’n impak gehad.

Mnr. Hein Rust, hoof van rampbestuur by die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit, het gesê gewoonlik sneeu dit op die berge in die omgewing, maar dié keer het dit ook op Beaufort-Wes gesneeu.

“Op die Richmond-pad lê die sneeu vanoggend tot ’n meter diep,” het hy gesê.

Die sneeu het gister geval in ’n gebied wat strek van sowat 20km wes-suidwes van Beaufort-Wes (aan die Leeu-Gamka-kant) tot in die omgewing van Victoria-Wes en Richmond noord van Beaufort-Wes.

In die noordelike gebied het dit veral swaar gesneeu.

Die N1 tussen Beaufort-Wes en Drie Susters is vir verkeer gesluit omdat die reën die sneeu laat smelt het. Voertuie wat die pad gebruik het, het dit op eie risiko gedoen.

“Die dorp lyk soos ’n prentjie uit Switserland en ’n boer het laat weet op een van die plase het bome se takke onder die sneeu se gewig gebreek.”

Mnr. Stefan Theron, ’n grondbewaringstegnikus van die Wes-Kaapse departement van landbou op Beaufort-Wes, het gesê dit is wit gesneeu. “Dit het laas in 1981 so gelyk.”

Me. Ingrid Koster, eienaar van die Lemoenfontein- private wildreservaat in die gebied, het gesê in die 16 jaar wat sy op dié gasteplaas is, het sy nog nooit so baie sneeu gesien nie.

Mnr. Jacques Pienaar, eienaar van die plaas Winterberg in die Nelspoort-omgewing, het gesê as pasgeskeerde angorabokke nie onder dak is nie, gaan hulle verkluim.

Grasperke is wit onder die sneeu, het me. Elna Visser van die vulstasie op Drie Susters gesê.

“Toe ek vanoggend werk toe stap, het dit gevoel of ek êrens in Europa is.”

Mnr. Gerard Otto, hoof van Eden-rampbestuur, het gesê sover bekend was daar nie groot skade in die Eden-gebied nie.)Reën word vir Donderdag in die Kaapse Skiereiland en dele van die Boland voorspel.

“Dit kan moontlik Woensdagnag reeds begin reën,” het me. Elke Brouwers, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, gesê.

Wat die stormsterk wind van die afgelope naweek betref, het Brouwers gesê dit behoort vandag af te neem.

“Dit sal nie so erg soos die naweek wees nie.”

Verslagspan: Eugene Gunning, Kobus Pretorius en Tisha Steyn.

- Die Burger