SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

20 July 2011

Brandweerwa sonder remme tref 7 motors


Die brandweerwa het gister sewe motors wat by ’n rooi verkeerslig gestaan en wag het, gestamp nadat die remme vermoedelik onklaar geraak het.
Foto: Bongiwe Gumede

Jody Nel

Twee mense is in die hospitaal nadat ’n brandweerwa met vermoedelik onklaar remme gister sewe motors in Johannesburg gestamp het.

Die ongeluk het omstreeks 15:10 in Yaleweg voor die Empireweg-kruising naby ’n ingang van die Universiteit van die Witwatersrand gebeur.

Mnr. Eric Mpofu, wie se grys Volvo die ergste in die ongeluk beskadig is, het aan Beeld gesê die motors in Yaleweg het by ’n rooi verkeerslig gestaan en wag toe hy die brandweerwa in sy truspieël sien aankom.

“Dit het ’n wit Toyota eerste gestamp. Die bestuurder (van die brandweerwa) het toe uitgeswaai om nog ’n motor te mis en my motor toe van agter gestamp,” het hy gesê.

Volgens Mpofu het die impak van die ongeluk sy Volvo een keer laat draai en dit het tot stilstand gekom toe die voorkant ’n paal getref het.

Hy is nie in die ongeluk beseer nie, maar me. Glenda Nkobo, ’n kollega wat saam met hom in die motor was, is beseer en na die hospitaal geneem.

“Ek is nie seker van haar beserings nie. Sy was wakker toe die paramedici haar weggeneem het.”

’n Man wat in ’n wit Ford Figo net voor hulle was, is ook na die hospitaal geneem.

Me. Tarina Tomlinson het gesê sy kon haar wit Getz net betyds na ’n ander baan skuif voordat die brandweerwa haar kon stamp.

“Die brandweerwa se ligte was aan. Ek het gesien hoe dit vinnig aankom en het geweet iets is fout.”

Twee motors langs haar en een voor haar is beskadig.

Volgens Tomlinson het die bestuurder van die brandweerwa gesê hy kon nie betyds stilhou nie omdat die remme onklaar was.

Me. Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het gesê hulle gaan die ongeluk ondersoek. “Ons kan nie sê of dit die remme was nie, want die bestuurder was nie in ’n toestand om vir ons die antwoorde te gee nie.”

Die twee beseerdes is volgens haar na die Milpark-hospitaal geneem.

“Die man het van rugbeserings gekla en die vrou van rug- en kopbeserings.”

Vier mans wat ook in die brandweerwa was, is vir waarneming na die Milpark-hospitaal geneem, maar is nie beseer nie, het Radebe gesê.

- Die Beeld


Mnr. Eric Mpofu se Volvo het die meeste skade opgedoen toe ’n weghol-brandweerwa dit en ses ander motors gister in Johannesburg gestamp het.  Foto: Bongiwe Gumede