SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

08 July 2011

Brand eis vrou (25) se lewe


Hilda Fourie

’n Gestremde vrou en ’n kleuter (4) het gister in onderskeidelik Pretoria en Springs doodgebrand in een van die felste winterbrandseisoene nóg.

In Pretoria-Tuine het ’n man gisteroggend kaalvoet in ’n brandende huis ingehardloop om sy buurman te help om dié se verstandelik gestremde tweelingsuster te red. Me. Maria van Vuuren (25) was egter vermoedelik reeds dood weens rookinaseming toe hulle haar uitgesleep het.

Mnr. Ryno Harmse (22) woon oorkant die Van Vuurens in Hannystraat. Hy het net ná 04:00 wakker geword van iemand wat om hulp skree. “Ek het gesien daar kom ’n bol rook by hul dak uit. Ek het net so in my onderbroek en hemp sonder skoene soontoe gehardloop. Pieter (van Vuuren) het vir my gesê sy suster is nog in die huis.

“Ons het ingegaan. Ons het gevoel-voel totdat ons haar gekry het. Ons het haar tot by die hek gesleep,” het Harmse vertel.

“Ek het nie vir ’n oomblik aan bangheid gedink nie. Ek wil net nie hê iemand moet doodbrand terwyl ek niks gedoen het nie.”

Van Vuuren (25) het sy pa, mnr. Piet van Vuuren, ook uit die huis gehelp nadat dié weens rookinaseming ineengestort het. Van Vuuren jr. se vrou, Evangeline (20), en hul seuntjie, ook Pieter (2), het veilig uit die huis gevlug.

Net die mure van die huis is oor ná die brand. Die tweeling se ouma, me. Maria Thirion (75), is in die Steve Biko-hospitaal nadat sy brandwonde aan haar gesig opgedoen het.

Die brand het vermoedelik begin in Thirion se kamer, wat langs Maria se kamer was.

Die tweeling se ma, me. Elize van Vuuren , het gister gesê sy het omstreeks 04:00 wakker geword toe Thirion skreeu: “Kom help my, my bed brand!”

“Toe ek by my ma kom, was haar hele kamer aan die brand,” het Elize van Vuuren gesê.

Sy het gekla die brandweer het eers ná omtrent ’n halfuur daar aangekom. Een brandweerwa was glo sonder water.

Die Tshwane-nooddienste het nie gister op navrae gereageer nie.

- In Springs is ’n seuntjie dood nadat sy gesin se huis eergisteraand aan die brand geraak het, berig Jody Nel.

Kapt. Johannes Ramphora, polisiewoordvoerder, het gesê ’n egpaar en hul drie kinders was eergisteraand tuis in Selcourt, ’n voorstad in Springs, toe die brand begin het.

“Paramedici het ’n kind op die toneel dood verklaar.” Hy het vermoedelik weens rookinaseming gesterf.

Die ouers en hul twee ander kinders is in die hospitaal opgeneem vir rookinaseming.