SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

14 July 2011

Brand eis ma en 4 kinders


Nooddienswerkers besig om die vyf lyke uit die huis te verwyder. Foto: Felix Dlangamandla

Jacques Steenkamp

’n Johannesburgse man het sy buurman gisteroggend gered nadat dié se vrou en vier klein kinders vermoedelik al in hul huis doodgebrand het.

“Dank die Vader ek het nie die kinders se gille gehoor nie,” het mnr. Ashley Jones van Ormonde in die suide van die stad gesê.

Mnr. Naeem Dedat (30) is die enigste oorlewende gesinslid ná die dood van sy vrou, Suraya (31), en hul vier kinders – Mohammed Uzair (4), Fatima Zahra (3), Laeeqah, wat Sondag 2 sou word, en Mohammed Zubair (8 maande).

Jones het vertel hy kon nie slaap nie en het geluide buite gehoor. “Ek het gedink iemand is besig om by my bure in te breek, maar toe ek deur die venster loer, het ek die vlamme by Dedat se huis gesien en besef wat ek gehoor het, is die geluid van die dakteëls wat pop. Dit was asof die duiwel die vlamme aangehits het.”

Jones en sy vrou, Joy, het eers gedink niemand is tuis nie.

Nadat hulle die nooddienste ontbied en met die huiseienaar by wie Dedat huur, gepraat het, het hulle ’n motor voor die huis opgemerk.

“Ek het oorgehardloop en Dedat se gille gehoor. Ek het toe van ons bure geroep wat my gehelp het om die hek op te lig sodat ons toegang tot die erf kon kry,” het Jones gesê.

Hy het gesien Dedat is agter die diefwering van ’n badkamervenster vasgekeer.

“Een buurman het die diefwering met ’n krieketkolf probeer breek, maar ek het gesien dit gaan nooit werk nie en ek het my hoekslyper gaan haal om deur dit te sny.”

Volgens Jones wou Dedat nie die huis verlaat nie omdat hy sy gesin nie alleen wou los nie. Hulle moes hom deur die venster trek.

’n Verwarmer in een van die kinders se slaapkamers het blykbaar aan die brand geraak.

Mnr. Synock Matobako, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het gesê die egpaar het die kinders gehoor gil en toe soontoe gehardloop.

“Die pa het vir my gesê een van die kinders se rug was aan die brand en hy en sy vrou het dit met water geblus. Hy het toe weer water in die badkamer gaan haal om die res van die vlamme te blus, maar dit het vinnig deur die vertrek en res van die huis versprei.

“Dedat het sy vrou toe beveel om die kinders te vat en uit die huis te vlug terwyl hy in die ander rigting na die badkamer gehardloop het,” het Matobako gesê.

Die huis se dak het ineengestort. Dit het mev. Dedat en die kinders vermoedelik in die sitkamer vasgekeer, waar hulle dood is.

Ao. Lorraine van Emmerik, polisiewoordvoerder, het gesê al vyf oorledenes het baie erg gebrand, maar dit is nog nie bekend of hulle weens rookinaseming of hul brandwonde gesterf het nie.

“Die patoloë sal dit in die lykskouing moet bevestig.”

Talle geskokte familielede, vriende en bure het gister ure lank buite die huis saamgedrom om mnr. Dedat, wat daar gewag het totdat sy gesin se lyke omstreeks 09:45 verwyder is, te troos.

Die Dedats is gister omstreeks 18:00 volgens die Moslem-gebruik in die Avalon-begraafplaas begrawe.

- Die Beeld