SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

27 July 2011

2 000 Angorabokke vrek weens koue

Deur ALANI JANEKE

Sybokhaarboere in die Rietbron-distrik het sedert die naweek sowat 2 000 Angora-bokke verloor wat weens die koue verkluim het.

Mnr. Barries Snijman, die voorsitter van die Rietbron-sybokhaarkwekersvereniging, sê verskeie boere het verlede week reeds begin skeer. Die boere is baie moedeloos. Een van die boere het tot 300 dragtige ooie verloor, en een ooi kan tot R1 000 werd wees.

“Dít kom nou ná ’n jare lange droogte en ná baie boere bokke weens die uitbreking van slenkdalkoors verloor het. Verskeie boere het dus nie genoeg bokke vir die seisoen gehad nie en nou verloor hulle nóg,” vertel Snijman.

Boere tref nie voorbereidings
Snijman meen dat baie mense kan meen dat boere moontlik nie die nodige voorbereidings getref het nie.

“Dit het in 1998 ook gebeur en ons het spesiale skuilings opgerig, maar as dit so lank reën en koud is, kan jy ’n bok ook net tot in ’n sekere staduim probeer beskerm. Die bokke het vanjaar ook in gebiede verkluim waar hulle nog nooit verkluim het nie.”

Volgens Snijman het dit Sondagmiddag (24 Julie 2011) begin reën, met ’n koue oostewind wat oor die distrik gewaai het. “Ons dagtemperatuur was Maandag (25 Julie 2011) 6° Celsius en die reën het eers in die middag begin opklaar.”

Jassies
Een van die voorstelle wat al as ’n oplossing vir geskeerde bokke voorgestel is, is om vir hulle jassies aan te trek as hulle klaar geskeer is. “Die boere kan dit egter nie bekostig nie. Een so ’n jassie kan tussen R50 en R60 kos, en as jy 3 000 bokke aanhou, kan jy nie bekostig om vir al jou bokke jassies te koop vir een maal in 12 jaar se risiko nie.”

“Ons het wel al vir die bedryf gevra om ons by te staan en te help met goedkoper jassies,” vertel Snijman.

Dankbaar
Mnr. Flip Matthee, ook ’n boer van die distrik, sê baie boere het ook Dorperskape verloor, maar die meeste se skade kon nog nie behoorlik bepaal word nie omdat hulle nog nie by al die diere se skuilplekke kon uitkom nie.

“Nietemin, ná ’n erge droogte hier, is ons baie bly vir die reën, want dit beteken vir ons kapitaal in die grond. Wie weet, dalk is dié jaar vir ons ’n blommejaar,” vertel Matthee. Hy sê ’n gemiddelde van 25mm tot 30mm reën het geval.

- Landbou.com