“Welcome to the S.A. Weather and Disaster Information Service. (SAWDIS) This service is made possible by amateur radio operators and private citizens around the country that volunteer the use of their weather and radio stations, weather and disaster photographs, data and information for educational and research purposes. The SAWDIS is a non-profit organization that renders a FREE COMMUNITY-BASED SERVICE to anyone requiring the information.”
28 April 2011
Sneeu val wyd op Wes-Kaapse berge
SNEEU! Die Matroosberg-natuurreservaat was gister ’n spierwit speelpark met die eerste sneeu van die winter wat Dinsdagnag in ’n erge storm oor die gebied geval het. Vir die Greeff-kinders was daar gister sommer heelwat sneeu om hulle met koue vrolikheid besig te hou. Van links is Elke (3), Xander (6), Heike (11) en Zilke (13). Foto: Leánne Stander
Marelize Barnard
Kaapstad - Terwyl sneeu, reën en ysige koue in die Wes-Kaap vanoggend mense tot diep onder die donskomberse dwing, sit die landboubedryf met ernstige droogteprobleme in veral die suidelike dele van die provinsie.
Die Wes-Kaapse departement van landbou sal teen aanstaande week besluit of hy boere in die streek van die suidelike hange van die Langeberge af tot aan die kus met droogtehulp gaan bystaan.
Mnr. Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou, het gister gesê die droogtehulp wat vir boere aan die noordekant van die Langeberge goedgekeur is, sal weens die bittere droogte moet uitbrei.
Met dié hulp word koepons aan boere gegee om veevoer vir hul beeste, skape en bokke te koop. Dit sluit hulp vir volstruise uit.
“Oor die algemeen het dit nog nie baie in die provinsie gereën nie. Die gebied waar die droogte kritieke afmetings aanneem, is Ladismith en Oudtshoorn en sekere dele in die omgewing van Merweville en Beaufort-Wes.”
Van Rensburg het bygevoeg dat die landboutoestande in die streek tussen Swellendam en Mosselbaai ook die laaste tyd dramaties verswak het.
Die goeie nuus is dat twee van die peste en plae wat die landboubedryf teister – Afrika-perdesiekte en slenkdalkoors – voor die koue gaan wyk.
“Ons het lankal gehoop dat die koue sal kom; die somer was nogal lank. Die koue sal beslis help teen die muggies en muskiete,” het Van Rensburg gesê.
Die waarnemende hoofdirekteur van veeartsenydienste in die Wes-Kaap, dr. Pieter Koen, het gesê die koue is goeie nuus om insek-oordraagbare siektes, soos Afrika-perdesiekte en slenkdalkoors, te laat afneem.
In Mamre is Afrika-perdesiekte reeds besig om af te neem en die koue kan verder help om die siekte hok te slaan.
Die koue, sneeu en stormweer is nie heeltemal ongewoon nie, het mnr. Carlton Fillis, ’n weervoorspeller by die Kaapstadse weerkantoor, gesê.
’n Hele rits fronte het deur die Wes-Kaap beweeg, en elkeen het tot laer temperature bygedra. Bittereinders wat op goeie weer wag, sal teen die naweek met warmer, hoë temperature beloon word.
Sneeu het onder meer geval op die hoë pieke van die Matroosberg, Theronsberg, Waboomsberg, op die Swartbergenaby Oudtshoorn en die Langeberge by Swellendam.
Maar een sneeuvlokkie maak nog lank nie ’n winter nie. Terwyl ’n yskoue oggendtemperatuur van -5 °C in Sutherland en net 4 °C op die Kaapse Vlakte voorspel word, draai die temperatuur teen Sondag by die 30 °C in Kaapstad, volgens Fillis se voorspelling.
Mense is gewaarsku dat die seedeinings steeds besonder hoog is.
“Onthou daar word gemiddelde golfhoogtes voorspel, maar van die golwe sal hoër wees.”
Fillis het bygevoeg dat die hoogste golwe, van gemiddeld 7 m hoog, tussen Tafelbaai en Kaap Agulhas verwag word.
- Die Burger
Labels:
cold weather,
Snowfall
