SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

25 February 2010

Droë dele van Vrystaat jubel oor milde reën

Die Suid-Vrystaters swem rugslag in spruite wat uit hul nate bars slegs dae nadat die skape nog stof uit die droë veld getrap het. Die Suid-Vrystaat jubel. Die droë kolle is deurnat. Spruite vloei sterk nadat tussen 100 mm tot 185 mm oor twee dae hier gemeet is.

“Ja-nee, Klawerfontein se fontein loop. Hy loop! Bossiesspruit is in vloed. Jy kan dit skryf,” het mnr. Fanie Griesel van Springfontein gister opgewonde gesê. En met rede.  Hy het gesien hoe ’n droogte van drie jaar voor sy oë deur ’n deurdringende reën gebreek word. By hom is 185 mm gemeet – ’n volle nege en ’n halwe duim in die ou taal.

“Dit was baie droog. Kritiek. Die droogte het baie jare geduur. Maar hy’s gebreek; ek is baie tevrede. Daar’s nou kos vir die winter en ’n goeie vroeë somer. Die ondergrondse water word aangevul.”

Mev. Karien du Plessis van die plaas Ruigtevlei, Springfontein, het sy goeie gemoedstoestand beaam: “Dis lieflike reën. Die spruite loop lekker. In Februarie het ons al 253 mm gemeet.”  Dinsdag het hulle 17 mm gemeet en gister weer 71 mm.

“ ’n Vriendin, Lize van der Merwe, het nou gesê sy is vasgekeer. Sy sê hul spruit lyk soos die Howick-waterval.”  Van der Merwe het later gesê sy kon darem die huis bereik deur met die groot bakkie deur die Donkerpoortspruit te ry.  Haar man, Hannes, het gesê op hul plaas Lushof, 20 km van die Gariepdam, is in drie dae 103,5 mm gemeet. Vanjaar het hulle reeds 218 mm gemeet.  “Die spruit loop sterk, ek sal nie sommer met ’n klein bakkie deurry nie. Die water loop by my knieë oor die laagwaterbrug.”

Op die Kuilfontein-gasteplaas hier het die reën ook vir groot vreugde gesorg. “Dis wonderlik! Wonderlik! Dit reën!” het mev. Sandra Staples gesê nadat 180 mm sedert Dinsdag vroeg hier gemeet is.  “Dit was vreeslik droog. Ons het ons jaarlikse reënval in een dag gekry. Die spruite loop. Bossiesspruit loop bankvas!”

Mnr. Zirk Botha, wie se plaas Ruigtevlei in die middel tussen Fauresmith, Luckhoff en Philippolis lê, sê dit het hier wyd gereën. Dit was spierwit en droog, maar ná 103 mm oor twee dae gaan dit heelwat beter.
“Dis ’n groot ligpunt. Dis ’n geseënde reën. Ons was bekommerd, want dit het kol-kol gereën. Hier is nie een plas water nie. Al die water het in die droë aarde ingetrek.”

 - Teen gister 13:00 is meer as 70 mm in Bloemfontein gemeet. Daarna het dit steeds aanhoudend gereën. Ander plekke in die streek wat teen gister 08:00 goeie neerslae gehad het, is: Fauresmith 86 mm, Gariepdam 53 mm en Koffiefontein 84 mm. In die Noord-Kaap het verskeie plekke meer as 50 mm gemeet. Dit sluit in Daniëlskuil (50 mm), Hopetown (52 mm), Kenhardt (59 mm), Niekerkshoop (53 mm), Postmasburg (62 mm) en Merweville (60 mm).

Hierdie artikel het in Die Volksblad van 25 Februarie 2010 verskyn.