SAWDIS Share Buttons

SAWDIS Share Buttons:

11 June 2009

Meer natuurrampe saai verwoesting!


10/06/2009 08:43:44 PM - (SA)

Kaapstad. - Die getal verwoestende natuurrampe wat geklassifiseer word as ’n sogenaamde kategorievyf-ramp – van die ergste soort – het verlede jaar wêreldwyd tot 40 gestyg. Net een van dié rampe – ’n aardbewing in Japan – het nie met uiterste weerstoestande verband gehou nie. Só sê die Worldwatch-instituut in ’n nuwe ontleding hieroor.

In 2008 is 750 natuurrampe wêreldwyd gedokumenteer. Dit is 22% minder as die rekord van 960 rampe wat in 2007 aangeteken is, sê dié instituut.

Hoewel die getal natuurrampe verlede jaar minder was as in die vorige jaar, was daar ’n toename in die getal grootskaalse rampe (wat met groot geldelike koste en mensenood gepaardgegaan het). Dit sluit in moesonvloede in Indië en Bangladesj, die orkaan Gustav in Amerika en die tifoon Fengshen in die Filippyne.

Ongeveer 82% van die natuurrampe wat die afgelope jaar wêreldwyd voorgekom het, hou luidens dié oorsig met uiterste weerstoestande verband. Veral Asië het kwaai deurgeloop weens uiterste weerstoestande. Die getal hidrologiese natuurrampe wat aangeteken is, het sedert die jare tagtig wêreldwyd verdriedubbel, sê die instituut. In dieselfde tydperk het me­teorologiese en klimaatverwante rampe bykans verdubbel. Dié ontleding bou voort op die herversekeraar Munich Re se navorsing sedert 1974 oor natuurrampe.

Verlede jaar is ’n ekonomiese verlies van sowat $200 miljard weens natuurrampe gely, terwyl daar net vir ’n verlies van $45 miljard verseker is. Dit was op twee na die grootste geldverlies wat weens natuurrampe gely is sedert betroubare rekords gehou is (as inflasie in berekening gebring word).

Minstens 163 000 mense is verlede jaar as gevolg van natuurrampe dood.

Aanpassings om die uitwerking van klimaatsverandering te temper, is in talle wêrelddele dringend noodsaaklik. Só is die afgelope week by klimaatsonderhandelings in Bonn (Duitsland) gesê.

Onderhandelings is onder die VN-vaandel onderweg vir die daarstel van ’n klimaatverdrag vir ná 2012 (wanneer die eerste fase van die Kioto-verdrag ten einde loop). ’n Multilaterale ooreenkoms hieroor moet einde vanjaar gesluit word.

Klein eilandstate in die Stille Oseaangebied vra onder meer hulp om aan te pas by uiterste storms en stygende seevlakke, berig die Earth Negotiations Bulletin. Naas hulp met klimaatsaanpassings word tegnologiese en finansiële steun ook vir mitigasie (kweekhuisgasinkortings) benodig.

Luidens ’n ontleding van die Europese Unie sal arm lande teen 2020 jaarliks sowat $142 miljard benodig om stygende kweekhuisgasvrystellings in te kort, berig .